Uitdying van die heelal

Vir die vinnige uitsetting van die heelal net ná die Oerknal, sien Inflasie (kosmologie).

Die metriese uitdying of uitsetting van die heelal is die toename in die grootte van die heelal en dus ook in die afstand tussen twee verafgeleë dele daarvan. Dit is egter net op uiters groot voorwerpe van toepassing (sterrestelselswerms en groter) omdat kleiner voorwerpe deur swaartekrag na mekaar toe aangetrek word en nie teen die metriese uitdyingstempo wegbeweeg namate die heelal ouer word nie.

Volgens metings het die heelal se uitdyingstempo afgeneem tot sowat 5 miljard jaar gelede vanweë die swaartekragwisselwerking tussen die materie in die heelal; daarna het dit begin versnel. Om dié versnelling te verduidelik, het fisici die bestaan van donker energie voorgestel, wat in die mees eenvoudige teoretiese modelle lyk of dit ’n kosmologiese konstante is.

Terwyl spesiale relatiwiteit bepaal dat voorwerpe in die heelal nie vinniger as die ligsnelheid met betrekking tot mekaar kan beweeg as hulle in ’n plaaslike, dinamiese verhouding is nie, plaas dit geen teoretiese beperkings op die relatiewe beweging tussen twee voorwerpe wat te ver van mekaar geleë is om mekaar te beïnvloed nie. Dit is dus moontlik dat twee voorwerpe verder van mekaar verwyder is as wat lig sal kan beweeg. Dit beteken dat as die uitdying konstant bly, die twee voorwerpe mekaar nooit sal kan beïnvloed nie. Sterrestelsels wat byvoorbeeld verder as sowat 4,5 miljard parsek van ons af is, beweeg vinniger as die ligsnelheid van ons af weg. Ons kan sulke voorwerpe nog sien omdat die heelal in die verlede stadiger uitgedy het as vandag, en dus kan die lig van miljarde jare gelede wat van hulle af kom, ons steeds bereik. As die uitdying egter onverminderd voortduur, sal daar nooit ’n tyd aanbreek dat ons die lig van die voorwerp sal sien wat dit vandag uitstraal nie omdat die ruimte self tussen die aarde en die voorwerp vinniger toeneem as wat enige lig kan beweeg.

Vanweë die vinnige uitdying van die heelal is dit ook moontlik dat die afstand tussen twee voorwerp groter kan wees as die waarde van die ligsnelheid vermenigvuldig met die ouderdom van die heelal. Hierdie feite is dikwels ’n bron van verwarring vir sowel amateurs as professionele fisici.[1]

  1. Tamara M. Davis and Charles H. Lineweaver, Expanding Confusion: common misconceptions of cosmological horizons and the superluminal expansion of the Universe. astro-ph/0310808

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search